Toe Daniël op 2 jaar en 3 maande oud gediagnoseer is met spastiese diplegie, het ons geen idee gehad hoe die pad vorentoe sou lyk nie.
Spastiese diplegie is 'n vorm van serebrale gestremdheid wat hoofsaaklik die bene beïnvloed. In Daniël se geval beteken dit dat die boodskappe tussen sy brein en sy spiere nie altyd glad deurkom nie. Sy spiere is stywer as normaal, wat beweging moeiliker maak. Soos hy groter geword het en gegroei het, het dit sy fisiese bene - dye (of femurs in engels) begin draai - wat veroorsaak het dat sy knieë, bene en voete na binne toe draai. Hy het ook later nie meer platvoet geloop nie, want sy achilles tendon spiere het ook verkort weens die spastisiteit.
Dinge soos balans hou, hardloop, spring en selfs stap verg dikwels baie meer energie en moeite as vir ander kinders.
Vir Daniël het dit beteken dat hy harder moes werk vir dinge wat vir baie kinders natuurlik kom.
Maar hier is die ding.
Ek wil nie hê mense moet net die diagnose sien nie.
Ek wil hê hulle moet vir Daniël sien.
Want van die begin af was hy nog altyd die kind wat wou probeer.
Die kind wat wou deel wees.
Die kind wat nie wou terugstaan nie.
Wanneer hulle kinderkinetika by die skool gedoen het, wou hy alles saam probeer. Dit het nie saak gemaak of hy dit perfek kon doen nie. Dit het nie saak gemaak of hy eerste of laaste was nie.
Hy wou net deelneem.
Hy wou net probeer.
Hy wou net sy beste gee.
Ons het hom ook nooit in 'n borrel probeer grootmaak nie.
Ons wou nooit hê hy moes voel daar is dinge wat hy nie kan doen nie. Ja, daar is uitdagings. Ja, daar is sekere dinge wat vir hom moeiliker is. Maar ons het hom nog altyd probeer leer dat sy diagnose hom nie definieer nie.
Ons glo wat in Filippense 4:13 staan:
"Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee."
Dit beteken nie die pad is altyd maklik nie.
Dit beteken nie daar is nie dae wat swaar is nie.
Maar dit beteken dat God se krag groter is as enige uitdaging wat oor ons pad kom.
Daar was natuurlik ook moeilike oomblikke.
Oomblikke wat 'n mamma se hart laat seer kry.
Wanneer jy hoor maatjies wil nie altyd hê hy moet saam speel nie omdat hy nie so hoog kan skop nie, of omdat hy anders hardloop.
Daardie oomblikke maak seer.
Maar terselfdertyd sien ek hoe dit karakter bou.
Hoe dit hom leer om aan te hou probeer.
Hoe dit hom leer dat sy waarde nie bepaal word deur hoe vinnig hy hardloop of hoe hoog hy kan skop nie.
En dalk is dit hoekom hy so maklik in mense se harte inkruip.
Want hy gee nie op nie.
Hy wil self probeer.
Hy wil self leer.
Hy wil self ontdek wat moontlik is.
Hy droom daarvan om rugby saam met sy boetie te speel. Tot dan bly hy sy boetie se grootste ondersteuner.

Hy gee altyd sy beste.
En hy herinner ons daagliks daaraan dat moed nie beteken jy het geen uitdagings nie.
Moed beteken jy staan op, probeer weer en hou aan glo - selfs wanneer die pad moeiliker is as vir ander.
Daniël se storie gaan nie oor spastiese diplegie nie.
Dit gaan oor geloof.
Dit gaan oor deursettingsvermoë.
Dit gaan oor hoop.
En ek glo met my hele hart dat sy getuienis eendag groot gaan wees.
🤍
Laat weet wat jy gedink het, of deel jou storie met ons ♥



