Hoe ons hier gekom het...
As jy onlangs op ons reis afgekom het, wonder jy dalk:
Watter operasie het Daniël ondergaan en hoekom was dit nodig?
Om dit te verstaan, moet ons eintlik teruggaan na die begin.
In 2019 het ons uitgevind ons verwag 'n baba.
Met ons eerste sonar was daar net een klein hartjie om dop te hou. By die volgende sonar was daar skielik twee.
Ja, 'n tweeling!
Ek onthou nog die verrassing. Ek was nie seker of ek moes huil of lag nie. Maar daardie storie is vir 'n ander dag. 😊

Tydens een van die swangerskapsonars het die dokter opgemerk dat Daniël klompvoete (clubfoot) het.
Soos baie ouers het ek dadelik begin Google.
En soos baie ouers het ek die fout gemaak om die ergste moontlike scenario's te lees.
Ek onthou hoe ek gehuil het.

Ná Daniël se geboorte het ons sy klompvoete behandel met die Ponsetti-metode. Vir ongeveer 6–9 weke is sy voetjies weekliks gerek en in nuwe gips geplaas om hulle geleidelik in die regte posisie te kry. Daarna is 'n klein prosedure gedoen om sy Achillespees te verleng, gevolg deur nog 'n paar weke in gips. Toe die gips af was, het die volgende fase begin – spesiale skoentjies wat hy vir 'n lang tyd moes dra om te help keer dat die voete weer terugdraai. Hy het dit gedra tot en met ongeveer 4 jaar oud.
Ons het elke afspraak nagekom en alles gedoen wat van ons verwag is.
Maar soos die maande aangegaan het, het iets vir my gesê ons moet verder ondersoek instel.
Daniël het sy mylpale stadiger as sy tweelingboetie bereik.
Almal het gesê ons moet geduldig wees.
"Dis die klompvoete."
"Dis omdat hy 'n seuntjie is."
"Elke kind ontwikkel teen sy eie tempo."
Maar diep binne-in my het iets gesê ons moet aanhou vrae vra. Mamma - vertrou altyd jou instink of daai sesde sintuig waarvan hulle praat!
En ek is vandag dankbaar dat ons dit gedoen het.
'n MRI het later gewys dat Daniël waarskynlik op een of ander stadium voor, tydens of kort na geboorte 'n witstofbreinbesering (white matter injury) opgedoen het.
Vroeg in 2022, toe hy net 2 jaar en 3 maande oud was, het ons die diagnose ontvang:
Spastiese diplegie.
'n Vorm van serebrale gestremdheid wat hoofsaaklik die bene beïnvloed.
Namate kinders groei, kan die spiere al hoe stywer raak en beweging moeiliker word.
Vir ons het dit beteken dat ons gesien het hoe Daniël harder moet werk vir dinge wat vir ander kinders natuurlik kom.
Ons het ook gesien hoe hy meer begin val.
En as jy 'n mamma is, weet jy daar is min dinge wat jou hart so seer maak soos om jou kind te sien sukkel.
Maar Daniël het iets gedoen wat hy al sy hele lewe doen:
Hy het ons verras.
Met die hulp van ongelooflike fisioterapeute, baie harde werk en 'n ongelooflike sterk wil, het hy in Junie 2022 sy eerste tree geneem.
'n Oomblik wat ons nooit sal vergeet nie.
Ons het intussen jaarliks die pediatriese ortopediese chirurg bly sien.
Al die jare was daar een gesprek wat telkens teruggekom het:
Dat daar waarskynlik teen die ouderdom van 6 of 7 jaar 'n groter operasie nodig sou wees om hom die beste kans vir die toekoms te gee.
En dit bring ons by vandag.
By die operasie wat hy pas ondergaan het.
In my volgende inskrywing gaan ek meer verduidelik oor wat spastiese diplegie presies is en wat die operasie behels het.
🤍
Laat weet wat jy gedink het, of deel jou storie met ons ♥



