In my vorige plasing het ek gesels oor hoekom Daniël die operasie moes ondergaan.
Een van die moeilikste dinge om as ouer te hoor, is dat daar nie 'n geneesmiddel vir spastiese diplegie of die onderliggende breinbesering is nie. Die white matter injury wat Daniël opgedoen het, kan nie herstel word nie. Maar dit beteken nie daar is geen hoop nie.
Met vroeë intervensie, fisioterapie, terapieë en die regte mediese ondersteuning kan kinders ongelooflike vordering maak. Die doel van hierdie operasie was nooit om Daniël se diagnose weg te neem nie. Die doel was om dinge vir hom makliker te maak. Om sy liggaam beter te laat saamwerk met die ongelooflike wilskrag wat reeds in hom leef.
12 Augustus 2026.
Die dag waarvoor ons maande voorberei het.
Ons was vroeg op, want ons moes reeds 07:00 by die hospitaal aanmeld.
Voor ons hospitaal toe is, het ons eers vir Luan by die skool afgelaai. Hy wou so graag saam met ons bly, maar hy het ook verstaan dat dit 'n lang dag sou wees. Ons het hom oortuig dat hy baie meer pret by die skool sou hê as om ure lank in 'n hospitaal te sit en wag.
Die skool het ons deur die dag laat weet dat hy okay is, al was hy bietjie stiller as gewoonlik.
Toe was dit ons beurt om te wag.
Ons het in die chirurgiese saal gesit totdat hulle vir Daniël geroep het.
En hier is wat my vandag nog verstom:
Hy was opgewonde.
Hy was vol grappies.
Vol geselsies.
Vol lewe.
Hy kon nie wag om sy hospitaaljassie en blou onderbroekie aan te trek nie.
Hy het saam met my gedans.
Hy het gegiggel.
Hy het gemaak asof dit die lekkerste avontuur ooit was, al het hy geweet wat vir hom wag.
Daardie oggend het ek en Lu-André net weer besef dat hierdie kind se geloof baie groter is as sy ouderdom.
Net voordat hulle hom teater toe geneem het, het hy my trane afgevee.
Hy het my gerusgestel.
"Mamma, alles gaan okay wees, want die Here is by my."
Ek weet nie of hy ooit sal besef hoe baie daardie woorde vir my beteken het nie.
Hy is met die grootste glimlag teater toe.
Pappa was langs hom tot by die narkose.
Later het Lu-André vertel hoe braaf hy was. Hy het self sy narkosemasker vasgehou totdat hy aan die slaap geraak het.
Selfs die dokter het later gesê dit is ongewoon om 'n kind so rustig te sien.
En toe begin die wag.


Die operasie sou ongeveer drie ure duur.
Die dokters het gesê ons moet iets gaan eet.
Ek en Lu-André het onder in die kafeteria gaan sit.
Kort daarna het Oupa Theuns en Tannie Monique vanaf Walvisbaai deurgekom vir ondersteuning.
Oupa het lank voor die operasie vir Daniël belowe dat hy daar sou wees wanneer hy sy oë oopmaak.
Met dankbare harte het ons saam gewag en geselsies gemaak, soms sommer net in stilte gesit.
Ek weet nie vir wie die wagtyd moeiliker was nie.
Want Oupa kon eenvoudig nie stil sit nie.
Drie ure het verby gegaan.
Toe vier.
En ek onthou nog die knop in my maag.
Jy weet jou kind is in goeie hande.
Jy vertrou die dokter.
Jy vertrou God.
Maar jou gedagtes probeer jou steeds oortuig om die ergste te verwag.
Toe kom die oproep.
Die operasie was 'n sukses.
Ons sou hom binnekort kon sien.
Daardie "binnekort" het soos 'n ewigheid gevoel.
Toe ons uiteindelik geroep word, was Daniël reeds wakker.
Ek kon sommer sien hy was angstig.
Hy het sy oë oopgemaak en ons was nie daar nie.
Dit was iets wat ek so graag wou voorkom.
Toe ek hom sien, het die trane net gekom.
Trane van dankbaarheid.
Trane van verligting.
Trane van vrees vir die pad wat nog voorlê.
En dalk ook net omdat dit my seergemaak het om my seuntjie so weerloos daar te sien lê.
Die narkose het hom naar gemaak, en ongelukkig was pappa se hande die naaste slagoffer. 🤭
Kort daarna is Daniël na ICU geskuif.
En toe gebeur iets wat ek glad nie verwag het nie.
Die masjiene.
Die geluide.
Die monitors.
Alles het my onmiddellik terug geneem na 2019.
Na die NICU.
Na die dae toe ons twee klein premature babas vir 68 dae lank moes agterlaat en vertrou dat God hulle veilig sou hou.
Dit is 'n gevoel wat ek nie regtig in woorde kan beskryf nie.
My tas was gepak om daardie aand saam met Daniël te slaap.
Maar Lu-André kon dadelik sien dat ek nie okay was nie.
Hy het sonder huiwering gesê hy sal bly.
Intussen het Oupa en tannie Monique vir Luan by die skool gaan haal.
Hy het bietjie liefde en bederfies gekry.
Bietjie speeltyd saam met sy maatjie, Milla – tannie Monique se geliefde Jack Russell.
Die boeties kon mekaar nie sien nie, maar ons het videos heen en weer gestuur sodat hulle mekaar kon sien en hoor.
Dit was 'n lang dag.
'n Emosionele dag.
'n Dag vol gebede.
'n Dag vol trane.
'n Dag vol dankbaarheid.
Daardie aand het ek vir Daniël en sy pappa gegroet en saam met Luan huis toe gery.
Net toe ons in die kar klim, het Luan begin huil.
"Ek mis my boetie."
Ek het hom styf vasgehou.
En saam met hom gehuil.
Want die waarheid is dat hierdie operasie nie net een persoon geraak het nie.
Dit het ons almal geraak.
Maar te midde van die trane was daar ook vrede.
Want ek het geweet my seuntjie is veilig.
Ek het geweet sy pappa sit langs sy bed.
En ek het geweet dat God se engele wag hou oor hom.
So het dag een van ons nuwe normaal tot 'n einde gekom.
Moeër as ooit.
Emosioneel uitgeput.
Maar met harte wat oorloop van dankbaarheid.
Want die operasie was 'n sukses.
En vir daardie dag was dit genoeg. 🤍


Laat weet wat jy gedink het, of deel jou storie met ons ♥



