Soos ek in vorige plasings genoem het, het ons van die tyd van Daniël se diagnose af jaarliks die pediatriese ortopediese chirurg besoek.
By elke opvolgafspraak het ons sy vordering gemonitor, na sy loop gekyk en nuwe X-strale laat neem. Ons het geweet daar mag dalk eendag 'n groter operasie nodig wees, maar ons het ook geweet dat dit nie iets is wat oorhaastig aangepak word nie.
Die chirurg het oor die jare verduidelik dat die beste tyd vir hierdie tipe operasie gewoonlik rondom ses-tot-sewejarige ouderdom is. Teen daardie ouderdom kan hulle die effek van die spastisiteit op die bene beter beoordeel, terwyl die kind nog jonk genoeg is om optimaal van die operasie en rehabilitasie te herstel. Die doel is om die bene reg te stel voordat verdere groei die probleem vererger.
Juis oor die rede het ons jaar na jaar bly monitor en wagtyd gegee totdat die regte tyd aangebreek het.
In November 2025 is die besluit uiteindelik geneem.
Die operasie sou in Junie 2026 plaasvind.
Vir my en my man het dit sin gemaak. Ons het gevoel dat dit ons genoeg tyd sou gee vir rehabilitasie voordat ons seuntjies in 2027 met Graad 1 begin.
Teen hierdie stadium het die X-strale reeds gewys dat Daniël se femurs al meer begin draai het. Sy bene het meer na binne begin wys en dit het al hoe moeiliker geword om sy bewegingspatrone te handhaaf.
Nou wonder jy dalk...
Wat presies het die operasie behels?
Die operasie was deel van wat hulle noem 'n Single Event Multilevel Surgery (SEMLS). Dit beteken dat verskeie probleme tydens een operasie aangespreek word, eerder as om verskillende operasies oor jare te versprei.
In Daniël se geval het dit twee hoofprosedures behels:
*Bilaterale femorale derotasie-osteotomieë.
*Bilaterale Achilles-verlengingsprosedures.
Genade, ek weet dit klink grieks!, maar eenvoudig gestel:
Die chirurge moes albei sy dybene (femurs) doelbewus sny, draai na 'n beter posisie en dit weer met plaatjies en skroewe vasheg sodat dit reguit kon genees.
Ja, dit beteken sy bene is letterlik gebreek
😢
en weer reguit vasgesit.

Omdat sy Achilles-senings ook baie styf was, is dit terselfdertyd verleng om meer beweging by sy enkels moontlik te maak.
Die doel van alles was eenvoudig:
Om Daniël die beste moontlike kans te gee om makliker, meer doeltreffend en met minder spanning op sy liggaam te beweeg soos hy groter word.
Kort nadat die besluit geneem is in November 2025, het ons begin voorberei.
Of altans, so goed as wat 'n mens moontlik kan voorberei vir iets soos hierdie.
Ons het geweet daar lê 'n groot berg voor.
Ons het geweet daar gaan pyn wees.
Ons het geweet daar gaan maande van rehabilitasie wees.
Maar ons het ook geweet dat hierdie besluit geneem is met Daniël se toekoms in gedagte.
Toe word Junie Augustus.
Omdat ons chirurg net 'n paar keer per jaar vanuit Suid-Afrika na Namibië reis, is die operasie uiteindelik vir Augustus geskeduleer.
Met die nuutste X-strale wat voor die operasie geneem is, was die aanbeveling steeds dieselfde. Die operasie moes voortgaan.
Hieronder is die laaste opvolg ondersoek by die chirurg, geneem Sondag 9 Augustus.


En skielik was die datum nie meer iets ver in die toekoms nie.
Dit was nou op die kalender.
12 Augustus 2026.
Die dag waarvoor ons maande voorberei het.
Die dag waarvoor ons gebid het.
Die dag wat ons geweet het die begin van 'n nuwe hoofstuk sou wees.
In my volgende plasing deel ek meer oor daardie dag self - van Daniël se danspassies in sy hospitaaljassie tot die lang ure van wag, hoop en gebed terwyl ons seuntjie in die teater was.
🤍
Laat weet wat jy gedink het, of deel jou storie met ons ♥



